Hartbeespoort-inwoners is keelvol... (ons sal maar nie die ander woord gebruik nie) en dors en vuil. Sommige is al weke sonder water, hang af van waar jy woon, en daar blyk nie hoop te wees nie want niemand weet enigiets nie.

 

Blykbaar ook nie die munisipaliteit nie!


Woedende, desperate en bedrukte inwoners se oproepe na die Kormorant het die afgelope week ons telefoonlyne beset.

 

“Wat gaan aan met die water?” was die standaard navraag. Hulle bel die munisipaliteit en die raadslede en is niks wyser nie.

 

Die munisipaliteit sê hulle skakel die klaers deur na die betrokke afdeling en dan word die foon neergesit, was elke inwoner se klagte.


Nou vra hulle maar die koerant. Nou kyk, ons weet baie, maar nie alles nie, en tot Dinsdag het die munisipaliteit geen woord gesê nie. Totdat ‘n raadslid glo gedreig het om ‘n nasionale televisiespan te ontbied, verneem ons.


Woensdag hoor ons die mense gebruik te veel water en nou gaan die water snags afgeskakel word om die reservoirs op te vul. Hoekom nou, na vyf weke word daar eers ‘n plan van aksie bedink, en gaan dit help?


Maar die grootste steen des aanstoots is die munisipaliteit se apatie ten opsigte van die situasie. Buiten bloot goeie maniere, is dit nie die munisipaliteit se plig om diegene wat hulle salarisse betaal se navrae te beantwoord nie?

 

Die enigste gevolgtrekking waartoe ons kom is dat hulle ook nie weet wat aangaan nie, of net nie omgee nie.
En om die inwoners te blameer vir die watertekort is ‘n verdomde cheek. Die inwoners word gevra om minder water te gebruik terwyl die munisipaliteit se waterpype soos siwwe lek en daagliks in ons strate afspoel.

 

Ons betaal vir die onderhoud en herstel van die pype en as dit aangemeld word is daar net beloftes of honderde verskonings waarom dit nie onmiddellik gedoen kan word nie. Dit terwyl die meeste mense nie ‘n druppel water in hul huise het nie.


Nog erger, by die munisipale kantore in Schoemansville, word die plaveisel afgespoel en sekuritietsondernemings was hul voertuie dat die seep so spat! Mens is sprakeloos.


Om terug te keer na die Madibeng burgemeester se 100 dae plan: Die derde prioriteit op die plan was die versekering van konstante watervoorsiening in die gebied... maar ons almal weet mos nou al die plan was net ‘n klomp leë beloftes en liegstories.


Wie glo die storie dat Randwater op 5 Desember aangesluit word? Beslis nie ons nie...